URANIUM: SOME HISTORICAL FACTS (AFRIKAANS VERSION)
BELEIDSIMPEMENTERING IN CASU URAANVERRYKING EN KERNENERGIE DEUR HILGARD MULLER AS MINISTER VAN BUITELANDSE SAKE (1964-1977)
Outeur: KJ De Beer
ABSTRACT
Surely the American ban on the selling of arms to South Africa, as well as the United Nations’ decision of August 1963, stimulated South Africa’s own armament industry which eventually culminated in the production of nuclear weapons. Today these weapons are, history because it has since been insulated as low grade enriched uranium refuge and most probably buried at Vaalputs in the Northern Cape. Vaalputs is one of the very few dumping sites for low grade enriched uranium refuge. It serves, inter alia, for refuge of the Koeberg nuclear power station in the Western Cape. In the Northern Cape it is speculated that another nuclear reactor will be erected next to the Western Coast of this province. However, it is still uncertain what the immediate future of the Pebble Bed Modular reactor will be. All these modern nuclear developments have started since the sixties and seventies by the previous South African government. For example, Dr. Hilgard Muller was one of the strategic role players to forge scientific ties with countries such as Germany, Taiwan, Israel and South American states, to enhance nuclear development for peaceful purposes. Because of the confidential and often “scary” nature, the layman in the street is little informed about this secret world, except that the national electricity provider, ESKOM, cannot stay ahead in providing enough power with its coal driven power stations. News about alternative power sources with wind, tidal sea currents, solar power and many more, are being covered daily by the media, but very little is said about the benefits of nuclear power, except about the fears that uranium enriched products could land up in the hands of terrorists. Nuclear terror is still ghosting since the two atomic bombs were dropped on Hiroshima and Nagasaki in Japan. Unqualified fears for radiation will also stay alive as long as nuclear energy itself versus the peaceful implementation thereof as propagated by Dr. Hilgard Muller, a former Minister for Foreign Affairs.
INLEIDING:
Uraanverryking en kernenergie was en is ‘n sensitiewe onderwerp in die wêreldpolitiek. Met die ter perse gaan van hierdie artikel is Iran en Noord-Korea in die spervuur van die Westerse bondgenote wat gekant is teen die ontwikkeling van kernwapens, terwyl pres. Barak Obama van die VSA vroegtydig ‘n Nobelprys vir Vrede ontvang het vir sy pogings om onder meer kernwapens te verminder (SA Media 2009). Eweneens was dié strategiese mineraal, uraan, sedert die twintiger- jare al omstrede in die Suid-Afrikaanse Departement van Buitelandse Sake. In ‘n onderhoud van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis met die vermaarde Suid- Afrikaanse wetenskaplike, dr. JE Holloway, word die uraanverkope aan die Amerikaners gedurende die tydperk van Generaal JBM Hertzog as Premier bespreek. Volgens hom was die geheime korrespondensie in die kluis van Buitelandse Sake bewaar (INEG-kasset 215). Oor die genl. JC Smuts-era as Eerste Minister, wat ook die portefuelje van Buitelandse Sake behartig het, vertel sy vertroueling, TC Robertson, van die ontwikkeling van die “atoombom” in die VSA en dat beide genls. Hertzog en Smuts op die hoogte was van die Teller –eksperimente aldaar (INEG-kassette 216-217). Genl. Hertzog het trouens gewaarsku teen ‘n wêreldoorlog waarin daar van verskriklik gevaarlike wapens gebruik gemaak sal word. Maar hy is polities deur genl. Smuts uitgeknikker, wat daarop Suid Afrika bereid verklaar het om die Britse Regering in hulle oorlog teen Duitsland te ondersteun.
Nadat die Amerikaanse bomwerper, Enola Clay, die skrikwekkende kernbom op die Japanse stad, Hiroshima, in 1946 afgegooi het om ‘n einde aan die Tweede Wêreldoorlog te bespoedig, het die kernwapenresies tussen die groot moondhede begin, met onuitwisbare gevolge vir die mensdom. Brittanje het spoedig toegetree. Daarby vertel die destydse Suid Afrikaanse Minister van Verdediging en latere president, JJ Fouché, dat die Simonstad Ooreenkoms van 1961 tussen Suid-Afrika en Brittanje ter beskermining van die strategiese seeroete om die Kaap, ook gebruik was om die Franse regering te oortuig vir beskerming van die roete. Wapentuig en “strategiese minerale” was deel van wat beskerm moes word (INEG-kasset 194). Gevolglik het die Franse regering verskeie tipes wapentuig aan Suid-Afrika verkoop, soos byvoorbeeld die Mirage vegvliegtuie, Daphne klas duikbote, ensovoorts.
Gedurende die tydperk van dr HF Verwoerd as Eerste Minister, is begin met die verryking van uraan by Pelindaba, terwyl die industriële ontwikkeling van uraan voortgegaan het in die BJ Vorster-tydperk as Eerste Minister. Dr. Hilgard Muller was die verantwoordelike buitelandse minister wat die polities sensitiewe inligting oor dié unieke, maar uiters strategiese uraanverrykingsprosesse moes help bestuur. Hy het veral ‘n wesenlike bydrae gemaak oor die vreedsame aanwending van kernenergie om voldoende elektrisieteit in die toekoms op te wek (De Beer 1980 : 79-80; 177; 120-123; 215; 233-236; 242; 280-286; 290; 458; 519-550; 735;738).
In die PW Botha-tydperk as uitvoerende President van Suid Afrika het die wapenboikotte teen die Suid-Afrikaanse volkere beleid ‘n hoogtepunt bereik, terwyl daar gerugte internasionaal was dat die land ‘n kernarsenaal begin opbou het. In diverse onderhoude met wetenskaplikes en veral politici, soos adv. RF Botha, die latere Minister van Buitelandse Sake, het die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) hoorbeelde in casu-uraanverryking, Velindaba, die Safari kernreaktor en die “strategiese grondstofontwikkelingsprogram” saamgestel (INEG-kassette 91, 97 en 144) (My aanhalingstekens). Hierin ontvou ‘n klein stukkie van die geskiedenis rondom Suid-Afrika se uiteindelike ontwikkeling van kernwapens en wat op die ou einde in die nuwe konstitusionele dispensasie sedert 1994 afgetakel is.
Die ANC-regering van die dag is egter positief oor die voortsetting van kernkragontwikkeling van ‘n Korrelbed-Modulêre Reaktor, maar behalwe vir enkele mediaberigte, is nie veel meer bekend oor hoe die nuwe ontwikkeling vanuit die tegnologie van die vorige bedeling ontwikkel word nie (Vgl. The Star 2009).
DIE HILGARD MULLER- ERA
Nadat adv Eric Louw as Minister van Buitelandse Sake in 1963 uitgetree het, het dr. Higard Muller, destydse Hoë Kommisaris in Engeland, hom opgevolg. Hoewel hy die karaktertrekke van ‘n gepoleerde diplomaat gehad het en altyd die regte diplomatieke protokol aan die dag gelê het, was hyself ‘n introvert van ge-aardheid met ‘n “cagey” manier van doen, soos die Engelse media hom getipeer het (De Beer:121). Oor die delikate onderwerp van oop- en geslote diplomasie was hy baie reguit gewees, veral oor uraanverryking en bespiegelinge rondom kernwapens: “Mense, ek is bevrees ek kan nie hier vir julle spesifieke inligting gee nie. Daar is dinge aan die gang en julle mag ook nie daaroor skrywe nie…dit is landsbelang dat u nie vir ons alles uiblaker nie…u moet u nie daaraan steur as u kwalik geneem word nie” (INEG-kassette 659 tot 662). In hedendaagse terme sou Muller beslis baie swaarder daarvan afgekom het as in sy dae, waar die nasionale media hom dalk ietwat beskerm het of versigtig was vir die destydse Nasionale Party-bewind. Maar hy het volstaan: ”Ek glo ‘n diplomaat moet min praat; indien moontlik glad nie na buite … die beste saak in die wêreld kan soms verongeluk word deur ‘n ontydige of onbesonne uitlating” (Muller 1972).
Terugskouend, na die geheimhouding van Suid-Afrika se “strategiese minerale- ontwikkelingsbeleid”, kon Muller natuurlik maklik in ‘n onbewaakte oomblik iets laat val het wat onmiddellik deur die Londense “media clearing house” die wêreld ingestuur sou word, veral oor kernwapens. Dit het natuurlik hom nog meer versigtig gemaak om nie meer as net die nodigste oor die onderwerp te sê nie.
BELEIDSIMPLEMENTERING:
Volgens Muller moes hy altyd twee faktore in berekening bring wanneer Suid-Afrika se buitelandse beleid bespreek word, naamlik internasionale bydaes soos wetenskaplike ontwikkeling, byvoorbeeld uraanverryking, en tweedens die internasionale awersie in die regering se rassebeleid. Dat Suid-Afrika internasionale bydraes met sy minerale by uitstek op ekonomiese gebied gelewer het, is nie te betwyfel nie, maar dit was verydel deur die sogenaamde beleid van vertikale differensisie in die nasionale staat. Om aanvaarbare maatskapsverhoudinge vanuit ‘n volkeregtelike posisie van gelykwaardigheid te bedryf, was vir Muller een van die moeilikste dinge waarmee hy homself willens en wetens moes versoen (Vgl. De Beer :79).
Sy sterk aanknopingspunt was egter dat Suid Afrika op wetenskaplik-tegnologiese terreine bydraes gemaak het, wat van die land ‘n onmisbare bondgenoot gemaak het. Bydraes tot die Internasionale Atoomagentskap en sy stategiese grondstowwe is praktiese bewyse waarsonder die Weste in die destydse Koue Oorlog nie sou kon klaarkom nie. Daarsonder sou die Westerse bondgenote hulle nie ten volle kon bewapen nie (Vgl. Muller 1964 en Botha 1976).
Vertroulike diplomasie is versterk deur die kernwapen-era sedert die Tweede Wêreldoorlog. In hierdie opsig was dit ‘n aanvaarbare beleid onder Westerse bondgenote en was Suid-Afrika ook so gerespekteer, want, skryf Barnard: “Die eise van die kerneeu het reeds ‘n kentering veroorsaak. In toenemende mate word daar weer na die vertroulike diplomatieke gesprekvoering van staatsmanne en diplomate teruggekeer ten opsigte van bestaande magspoloitieke magskonstellasies” (Barnard 1979).
In sy tyd as Minister van Buitelandse Sake het die Britse Regering ook geheimhouding in buitelandse aangeleenthede gehandhaaf, omdat volkere verhoudinge as sodanig delikaat is (De Beer:176). Maar die hoofsaak is die gevaar van skrikwekkende wapens soos kernbomme en ruimteprojektiele (Muller 1969). Tereg het die Atheense diplomaat van ouds, Thucydides se The Pelopponnesian War opgemerk: “ Since you know as well as we do that right, as the world goes, is only a question between equals in power, while the strong do what they can and the weak suffer what they must” (Barnard 1976: 228). In dergelike terme het Muller ook gesê dat Suid-Afrika se weermag as afskrikmiddel vir diplomatieke gewin aangewend kan word maar gekonsentreer op die postiewe boodskap van vrede, want, het hy in die Volksraad gesê: “…dat dit totaal verkeerd is om te dink dat Suid-Afrika in ‘n staat van oorlog verkeer met die res van die wêreld of ‘n deel daarvan” (Muller 1969). Vir hom was militêre paraatheid nie imperialisties afgestem nie, maar alleen eie aan die woorde van Vegetius – si vis pacem para bellum – as jy vrede verlang moet jy jouself vir oorlog voorberei (Barnard 1980:67). Insgelyks kan Muller se toespraak in die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies hierby aangehaal word: “… let me add that South Africa’s atomic energy programme is devoted to peaceful purposes exclusively. It has always been our policy, and it remains our policy, to sell uranium only on condition that the uranium be made subject to IAEA or equivalent safeguards to ensure that it is not diverted to military purposes” (Muller 1973).
Omdat Suid-Afrika vasgevang was in ‘n diplomatieke drukgang tussen Oos- en Weskonflikte van ideologieë, het dit moeilik gemaak om die raakvlakke tussen oorlog en normale maatskapsverbande te onderskei. Dit het impliseer dat diplomasie nie alleen ter sprake was nie, maar ook strategie. Muller verduidelik dit so voor die Suid-Afrikaanse Verdedigingskollege: ”The definition of strategy by the Oxford Dictionary is generalship, the art of War, the management of military forces. The two concepts have a great deal in common. Both for instance require the ability to plan and to manage. The objectives which they strive to achieve, may sometimes be identical, but often differ fundamentally. In the case of strategy the objective is frequently to obtain the maximum national advantage by the use of forsce, in other words, to conduct war successfully…The purpose of diplomacy is as a rule exactly the opposite: to obtain maximum national advantage without the use of violence, and with the minimum of friction or resentment, in other words, to avoid war. Diplomacy is therefore in a sense a substitute for force” (De Beer: 763).
Hoewel Muller wou voorgee dat Suid-Afrika nie ‘n “gunboat diplomacy” beoefen nie en dat die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) slegs ‘n verdedigende rol vervul, het die latere militêre bedrywighede in Angola en Suidwes-Afrika die teendeel bewys. Vandag kan Jan en Alleman ook nie presies sê wanneer Suid-Afrika begin kernwapens vervaardig het nie. Dit wil sê gedurende Muller se ampstermyn of daarna, maar verseker was dié land al op daardie stadium verdink dat hy sy kernkragvermoëns anti-normatief sou aanwend (De Beer: 216).
URAANVERRYKING TER WILLE VAN EKONOMIESE WEERBAARHEID:
Na die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika in ‘n jong nywerheidsreus op die Afrikavasteland ontwikkel. Tydens ‘n toespraak voor die Afrikaanse Handelsinstituut het Muller dit selfs vergelyk met die Duitse “Wirtschaftswunder” (Muller: 1966). Afgesien van sy tegnologiese kundigheid beskik die land ook oor ‘n groot verskeidenheid van strategiese en ekonomies ontginbare grondstowwe wat bygedra het tot ekonomiese weerbaarheid, juis omdat Suid-Afrika nie oor sy eie oliebronne beskik het vir militêre paraatheid nie. Die steenkool- en uraanprosesse moes help om verhogings in oliepryse te balanseer. Dit het weer die land se status as handelsvennoot gestimuleer. Daarby het die steenkool- en uraanpryse vergoed vir die energiekrisis, maar die land was nie “snoep” met sy kragbronne nie, haal die dagblad Die Transvaler (1974) die minister aan: “Energie-bronne , soos steenkool en uraan, sal veral beskikbaar gestel word aan bevriende lande wat nie so goed bedeeld is met natuurlike hulpbronne soos die Republiek nie.”
Omdat die destydse regering nie die direkte voordeel aan al die land se burgers deurgegee het nie, moet die The Natal Mercury (1974), ter wille van wetenskaplike perspektief, aangehaal word wat skryf: “all the increases in direct aid promised to the developing countries during the last session of UNO was more than wiped out by the oil price increases…South Africa, with her immense coal and uranium sources, was well placed in this respect but it was essential for all of us that the different energy producing resources of the Earth be rationally exploited in the interest of Mankind as a whole”. Dit is te betwyfel of hierdie wens ooit bewaarheid sou word, hetsy in die Muller-era, of selfs in die huidige ekonomiese klimaat van ‘n wêreldresessie.
DIE ENERGIEKRISIS:
Die uraan-ontginningsaanlegte het wel die SASOL-brandstof uit steenkoolaanleg gehelp met die opberging van brandstof (De Beer: 236). Hierteenoor het Muller gesê dat Suid-Afrika in ‘n bevoorregte posisie verkeer, dat hy ook ander energiebronne as net steenkool het. Uraan kon egter nie aan verarmde Afrika -state vekoop word nie, want hulle het nie oor kernkragstasies beskik nie. Nogtans was Muller se mening dat kernkrag die energiebron van die toekoms is en sal bly. Suid-Afrika beskik oor van die wêreld se rykste uraanneerslae en die land se wetenskaplikes daarby het reeds ver op die gebied van uraanverryking gevorder. In dié verband merk Muller in Kernaktief (1972:7) op: “Kleiner lande het hul vermoë bewys om dié terrein te betree en heel bruikbare resultate te lewer. Die prestasies van individuele lande is egter nie voldoende nie – die wêreld is ‘n gemeenskap van volkere en gesamentlike vooruitgang is die doelwit. Dit is dus besonder opvallend hoe baie toenaderings daar deur en tussen groot en kleiner lande plaasvind om ekonomiese en lonende samewerking te bewerkstellig, ten einde vodoende brandstofvoorrade vir die kragreaktors van die toekoms te verseker”.
Vanweë die kernterreuraspek wat polities afgestem was, was Muller bedag om hom nie onverantwoordelik en onverantwoord hieroor uit te laat nie. Daar moes eers vooraf deeglik vasgestel word of Suid-Afrika se uraan nie in die arsenale van die vyandige kernmoondhede val nie (Volksraadsdebatte 1968). Volgens hom het Suid-Afrika in 1966 in ooreenstemming met die Internasionale Atoomenergie- agentskap besluit om niks te doen te hê met uraanverkope aan lande wat dit sal misbruik nie. Suid-Afrika het egter groot probleme met die kenrsperverdrag gehad wat in 1968 voor die Verenigde Nasies gedien het. Omdat dit oor die verspreiding van kernwapens gegaan het, en die land nie kernwapens vervaardig het nie, was daar volgens Muller eers ‘n paar tegniese punte wat uitgeklaar moes word. Daarom het ‘n span buitelandse kundiges Suid-Afrika kom besoek (Volksraadsdebatte 1968).
Op 14 Mei 1971 verklaar Muller in die Volksraad dat 100 lande die Kernsperverdrag onderteken en 55 dit bekragtig het. Die Kernsperverdrag het in die vorige jaar, op 5 Maart 1970, van krag geword nadat 43 lande en die deponerende lande, VSA en die destydse USSR en Brittanje dit bekragtig het. ‘n Aantal lande wat ‘n vername rol in die tegnologiese ontwikkeling van uraanverryking speel, byvoorbeeld Suid-Afrika, Indië, Australië, Frankryk, Wes-Duitsland, Spanje, en Sjina het toe nog geen stappe in verband met die kernsperverdrag opgevolg nie. Muller sê Suid-Afrika kan alleenlik standpunt oor toekomstige beveiligingsmaatreëls aan die Atoomagentskap inneem “nadat die reëls wat toegepas gaan word, geformuleer is in die teks van werklike konsep-ooreenkomste en nadat dit duidelik geword het of daar enige onderskeid tussen streeksgroepe en individuele state getref gaan word” (Volksraadsdebatte 1971).
Op 9 Junie 1972 bevestig Muller dat: “ South Africa had signed but not ratified the treaty on the prohibition of the emplacement of nuclear weapons of mass destruction on the seabed and the ocean floor and in the sub soil thereof” (Rand Daily Mail 1972).
Die Minister van Buitelandse Sake het hom egter nie direk veel uitgelaat oor die wesenlike gevare van kernbesoedeling vir die mensdom nie. In eietydse verband is nie veel betoog nodig om te wys op die potensiële monsteragtige gevare wat die kernaanlegte van die wêreld vir die ekologie en dus die voortbestaan van die mens inhou nie. ‘n Voorbeeld twee jaar na Muller se uittrede in 1977, is toe die kerninstallasie by Three Mile Island in Pennisilvanië se kragsentrale byna ontplof het (Beeld 1979). Hierdie gebeure het ook kritiek in Suid-Afrika oor die Koeberg-kernkragsentrale in die Wes-Kaap laat ontstaan. Indien ‘n kernongeluk hier sou gebeur, sal 2 miljoen mense die gebied moet verlaat (Volksblad 1979).
Vergelyk ook die aaklige gevolge van kernbestraling wat beenkanker en genetiese mutasies kan veroorsaak. Kortom, kernbestraling op enige manier – atomies, kosmies, diagnosties of terapeuties - vernietig sellewe. Radioaktiewe bestraling lei geluidloos en gevoelloos tot allerlei kankers deur midde van mutasies wat alle lewe op aarde vernietig (Huisgenoot 1979). Sou een staat ‘n kernwapen teen ‘n ander moondheid gebruik het – en hy self nie in die proses vernietig word nie – dan sou hy nog steeds nie die verowerde gebied as gevolg van radioaktiewe besoedeling, geredelik kon gebruik nie. Dieselfde geld ook vir die uiteindelike “oorwinnaar” van die wêreld, wanneer hy met ‘n besmetting van die ekologie in feitlik elke natuurkring te doen sal kry vir die daaropvolgende honderde (of moontlik duisende) jare (Vgl. Finlay en Howet 1975: 4:5; 56).
Selfs na sy uittrede uit die politiek het Muller volstaan dat kernkrag die olie van die toekoms is (De Beer: 777). Daarby geniet Suid-Afrika groot internasionale aansien ten opsigte van sy uraanverrykingsproses. In dié sin het hy altyd gesê die land is in ‘n besondere sterk posisie (Vgl. Volksraadsdebatte 1968). Die openbare geheimhouding van Suid-Afrika se uraannywerheid laat logieserwyse sekere vrae in die internasionale gemeenskap. Nuuskierigheid is ‘n rede tot spioenasie - enersyds om die bedreigingsfaktor te bepaal en andersyds om aan die wêreld te wil verkondig dat Suid-Afrika hom sou bewapen teen die agtergrond van sy sogenaamde Apartheidsbeleid. ‘n Praktiese bewys hiervan was toe die Minister se department in 1975 beswaar by die VSA aangeteken het, omdat ‘n Derde Sekretaris by die Amerikaanse amabassade in Pretoria, ene EB Brandt, ‘n geheime agent van die Central Intelligence Agency (CIA) was. Hy is op heterdaad betrap toe hy op die Suid-Afrikaanse uraanverrykingsprosesse gespioeneer het. In 1979 het die Departement van Buitelandse Sake opnuut versoek dat die VSA spioene Alven Crews, Bernd McConnel en Horace Wyatt moes terugroep, nadat hulle met ‘n ligte Beechcraft vliegtuig lugfoto’s van die land se kerninstallasies geneem het (Volksblad 1979).
Ruimtetegnologie, soos die Amerikaanse spoenasiesatelliet, Big Bird, en die SR 71- spioenasievliegtuig om inligting te bekom oor Suid Afrika se strategiese instellings, is ook sedert Muller se tydperk as Minister van Buitelandse Sake ingespan (Volksblad 1979).
TEGNOLOGIESE ONTWIKKELING:
Tydens ‘n persoonlike onderhoud deur die outeur met dr. Muller na sy tydperk as buitelandse minister, het hy verwys na Suid-Afrika se vindingrykheid wat met enige land ter wêreld tegnies kan meeding. Hy vervolg : “Die RSA bekik oor die goedkoopste, mees effektiewe manier om uraan te verryk (INEG-kasette 659 -662). Die tegnologiese terrein is vir Muller ook ‘n meer “onskuldige terrein”, omdat wetenskaplikes dwarsdeur die wêreld dieselfde taal praat. De Rivera (1968:319) merk ook op : “ Many observers have noted the bad effects which political officers - who are sensitive to subtle power advantages – can have on conferences of scientists, health officials and engineers who would otherwise cooperate easily.”
The Natal Mercury (1974) berig in sy hoofartikel na aanleiding van Muller se energietoespraak in Kaapstad dat: “The poorer nations of Africa will be paying a heavy price for their beliefs if they continue to spurn South Africa’s offer of financial aid and technological skills. Their continued existence as sovereign states could well depend on their ability to keep agricultural production in step with rapid population growth, and that will require the application of modern technology…Moreover, empty bellies and empty coffers can only bring turmoil to a nation – and a continent.”
Vanweë Suid-Afrika se tegnologiese ontwikkeling in uraanverryking het goeie betrekkinge op hierdie gebied met ‘n tegnologies gevorderde land soos Duitsland ontstaan. Na een van Muller se besoeke aan Duitsland se Minister van Navorsing en Tegnologie, Hand Mathoefer, in September 1975, is bespiegel dat daar ‘n kernalliansie tussen die twee lande bestaan. Beide ministers het die bespiegelinge ontken, maar gesê daar bestaan wel ‘n ooreenkoms om Duitse kern- aangedrewe skepe in Suid Afrikaanse hawens te ontvang. Muller het ook gesê dit is geen geheim dat die Suid-Afrikaanse Uraanverrykingskorporasie en soortgelyke Wes-Duitse maatskappye die oprigting van ‘n handelsfabriek vir uraanverryking vir vreedsame doeleindes ondersoek. EVKOM het in daardie stadium (1975) ook ‘n Wes-Duitse tender vir die oprigting van die Koebergkernkragsentrale in die Wes-Kaap gehad. Op sy beurt het die Wes-Duitse Minister van Navorsing en Tegnologie verklaar dat: “…ons koop wel uraan van Suid Afrika, want dié land het die voorraad en ons benodig uraan. Dit is egter nie verrykte uraan nie” (The Star 1975).
Die Wes-Duitse samewerking vir Koeberg het egter nie realiseer nie en Muller het op sy beurt opnuut die waarde van die Franse tegnologie besef. Met Suid-Afrika se strategiese minerale as rouproduk, kon dit na Frankryk uitgevoer word vir verwerking. In ruil kon Frankryk weer sy tegnologiese kennis in Suid-Afrika kom toepas soos wat in die Koeberg-kragsentrale uitgeloop het. Op dié wyse kon Suid Afrika en Frankryk ‘n gedugte span in die Westerse alliansie uitmaak (Muller 1975).
AFRICAN NATIONAL CONGRESS -SPIOENASIE:
Omrede die vyande van die Nasionale Party-Regering absoluut daarop ingestel was om elke moontlike inligting oor die Suid-Afrika se kernnavorsing te bekom, het die verdagmakery van die media oor die kernooreenkoms met Wes-Duitsland onder meer daartoe gelei het dat die African National Congres (ANC) vertroulike dokumente in die Suid-Afrikaanse ambassade in Bonn gesteel het. Muller het dit gerade geag om nie kommentaar te lewer nie, moontlik omdat generaal Guenther Rall, Wes-Duitsland se verteenwoordiger in die militêre komitee van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) se besoek aan die Raad op Atoomkrag se installasies by Pelindaba daarby betrokke was. Rall was oortuig van die strategiese belangrikheid van Suid-Afrika, berig Die Oosterlig (1975). Dié dagblad beweer ook dat hy hierdie oortuiging in NAVO-kringe in Brussel en in militêre kringe in Bonn uitgedra het. Dit was ‘n “diplomatieke verleentheid” vir die Wes-Duitse regering en Rall moes onder druk bedank toe die anti-Suid-Afrikaanse groepe ‘n bohaai daarvan gemaak het. Die Wes-Duitse Minister van Verdediging, George Leber, het egter verseker dat Rall se besoek aan die kernkraginstallasies by Pelindaba niks te doen het met sy afdanking nie en ook verseker dat die optrede nie teen Suid-Afrika gemik was nie. “Hy het daarop gewys dat ‘n soortgelyke besoek aan enige ander land wat nie lid van NAVO is nie, dieselfde gevolge sou gehad het” (Die Oosterlig 1975).
Al die antagonisme jeens Suid-Afrika moet dus nie so maklik oor die boeg van die wêreldwye onbeminde Apartheidsbeleid gegooi word nie, maar eerder in gedagte gehou word dat sy kerntegnologiese ontwikkeling, dié land midde in die magspolitiek van die Koue Oorlogse kernpolitiek geplaas het. Die Wes-Duitse episode het bewys dat die lande bereid is tot gewaagde onderhandelinge met Suid-Afrika, ongeag die gevolge. In die eeu van die kernverskrikking waar die ultimatum nooit verstryk nie, word politieke partye in lande gedwing om die volle verantwoordelikheid vir kernsamewerking te aanvaar. Wie dus met Suid-Afrika binne die era van magspolitiek wou onderhandel, moes dit dus uit ‘n absolute posisie van vrywillige gelykwaardigheid doen met al die noukeurige diplomatieke styl wat daarmee gepaard behoort te gaan (Vgl. Barnard 1979). Muller het die media vereker dat: “Enige bespiegeling dat Suid-Afrika van die Duitse metode vir uraanverryking gebruik maak, is totaal ongegrond…” (Hoofstad 1976).
Muller het die ekonomiese haalbaarheid van Suid-Afrika se uraanverrykingsnywerheid verder uitgebrei met Nasionalistiese Sjina (Taiwan), Israel en Suid-Amerikaanse lande. Maar intussen het die vendettas voortgeduur dat Suid-Afrika inderdaad besig is met die vervaardiging van kernwapens ”to be aimed at loud mouthed Afro Asiatic states” (Cervenka, Z en Rogers 1978: 556). Muller het opnuut herhaal dat Suid-Afrika nie fisiese konfrontasie wil hê nie en die Eerste Minister, adv. BJ Vorster, se bereidwilligheid benadruk om nie-aanvalsverdae met alle vredeliewende nie-kommunistiese state in Afrika aan te gaan (Volksraadsdebatte 1975). Ondanks al die versekeringe het die universele vendetta, soos Barnard (1980: 51) dit stel, uitgekring totdat Vorster op 24 Augustus 1977 tydens die Nasionale Party-kongres aan die wêreldgemeenskap gevra het: “ By what rights are they pressurizing South Africa …?” Later het hy vervolg dat die tyd aanbreek dat Suid-Afrika “…small as it is …” geen keuse sal hê om teenoor die wêreld te sê: “So far and no further, do your damnest if you so wish.”
SLOT BESKOUING:
Muller se diplomatieke strategie om die voordele van Suid-Afrika se unieke uraanverrykingsproses vir ekonomiese en tegnologiese ontwikkeling van die land en aan die wat daarin wou deel, voorop te stel, het die nywerheid ontsaglik bevoordeel in sy tydperk as Minister van Buitelandse Sake. Die aanwending vir elektriese kragopwekking en vredesdoeleindes oorskadu die gerugte in sy ampstermyn dat Suid-Afrika kernstrategiese minerale en sy gevorderde tegnologie gebruik het om ‘n kernwapenarsenaal op te bou. Dat Suid-Afrika wel later kernbomme vervaardig het, kan nie met sekerheid gestateer word dat Muller kennis daaroor gedra het in sy ampstermyn nie.
Verseker het die Amerikaanse wapenverbod, ondanks Suid-Afrika se militêre bydrae in die Koreaanse Oorlog, en die VN se Veiligheidsraadsbesluit van Augustus 1963, Suid Afrika se eie wapenindustrie gestimuleer wat op die einde deels te blameer is vir die uiteindelike vervaardiging van kernwapens. Vandag is die kernbomme afgetakel en gedeeltes van die laegraadse uraanverrykte onderdele is bes moontlik by Vaalputs in die Noord-Kaap begrawe. Vaalputs is van die min stortingsterreine vir laegraadse uraanverrykte afval in die wêreld. In dieselfde provinsie word ‘n moontlike tweede kernelektrisiteitsaanleg langs die Weskus beplan. Maar steeds word die vertroulikheid oor die ontwikkeling en toekoms van die Korrelbed-Modulêre Reaktor vir die opwekking van elektrisiteit gehandhaaf. Die mens op straat dra nie juis veel kennis van hierdie geheime wêreld nie, behalwe dat almal besef dat wanneer die elektriese ligte afgaan, dat die nasionale elektrisiteitsvoorsiener, ESKOM, nie langer kan voorbly met sy steenkoolaangedrewe kragstasies nie. Nuus oor alternatiewe kragbronne soos wind, oseaangetye, sonkrag en vele ander, word daagliks deur die media gedra, maar min word werklik oor die voordele van kernkrag gesê, behalwe oor die vrese dat uraanverrykte produkte in die hande van terroriste kan beland. Kernterreur spook sedert die eerste atoombomme op Hirosshima en Nagasaki afgegooi is. Dit en die radioktiewe besoedelingsaspek, sal solank as kernenergie self voortleef, versus die vreedsame aanwending daarvan soos deur dr.Hilgard Muller as destydse Minister van Buitelandse Sake gepropageer.
VERWYSINGS:
Barnard, L.D. 1978. Konflik en orde in Internasionale Verhoudinge. Perskor. Johannesburg.
Barnard, L.D. 1979. Die ultimatum wat nooit verstryk nie. Roeping en Riglyne. Vereniging vir Christelike Hoëronderwys. Bloemfontein. September.
Barnard, L.D. 1980. Die Totale Aanslag op die Republiek van Suid Afrika. Acta Academica. (13) Universiteit van die Vrystaat. Bloemfontein.
Botha, S.P. 1976. Ons Natuurlike Hupbronne. CR Swart Gedenklesing. (9). Departement Staatsleer. Universiteit van die Vrystaat. Bloemfontein. 10 September.
Cervenka, Z. en Rogers, B. 1978. The Nuclear Axis, Secret collaboration between West Germany and South Africa. Julian Friedman Books. Londen
De Beer, K.J. 1980. Ongepubliseerde doktorale proefskrif: Die Diplomatieke Strategie van Dr. Hilgard Muller teen die Totale Aanslag op die Republiek Van Suid Afrika. Promotor: prof. D.P. Wessels. Departementshoof: Staatsleer. Universiteit van die Vrystaat. Bloemfontein.
De Rivera. 1968. The Psychological Dimension of Foreign Policy. Charles E. Merril publishing Company. Ohio. USA.
Finlay, D.J. en Hovet, T. 7304: International Relations on the Planet Earth, Harper and Row. New York.
Hoofstad. 1975-10-08; 1976-10-08; 1976-12-23.
Huisgenoot (Die) 1979-04-12.
Instituut vir Eietydse Geskiedenis (INEG), 1976. Kasset nommers 91, 97, 144, 194, 215, 216-217, 659-662. Universiteit van die Vrystaat. Bloemfontein.
Kernaktief. 1972. Suid Afrikaanse Raad op Atoomkrag. Pretoria. Januarie.
Muller, H. 1964-1977. Diverse toesprake. Privaat versameling PV 528. Instituut vir Eietydse Geskiedenis. Universiteit van die Vrystaat. Bloemfontein.
Natal Mercury (The). 1974-09-05; 1974-09-09.
Oosterlig (Die). 1975-10-02.
Rand Daily Mail. 1972-06-10.
SA Media. 2009. Kernwapens en Obama. http://www.inch.uovs.ac.za Korrelbed Modulêre Reaktor. E-pos: prinsloH.BIB@ufs.ac.za Verkry op: 2009-11-20.
Star (The). 1975-09-09; 2009-08-03.
Transvaler (Die). 1974-09-05.
Volksblad (Die). 1979-04-17; 1979-05-22.
Volksraadsdebatte. 1966-09-23. Deel 17. Kolom 2912; 1968-05-29. Deel 34. Kolom 6428; 11969-05-07. Deel 27. Kolom 5590. 971-05-14. Deel 34. Kolomme 6904-6905; 1974-09-11. Deel 51. Kolom 2669 en 1975-04-24. Deel 56. Kolom 4832. Suid-Afrikaanse Parlement. Kaapstad.
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------